As die Here die name van die volke aanteken, sal Hy by elkeen skrywe: “Hierdie een is ook ’n kind van Sion.” (vers 6)
Baie mense dink die Ou Testament draai net om Israel, en dat dit eers ná die koms van die Heilige Gees is dat ander volke in die oog gekom het. Maar Ps 87 vertel ’n heel ander storie. Van die begin af was al die volke van die aarde in God se visier. Sion, die stad van God, is die tuiste van almal wat die Here liefhet (vers 4 en 6).
Dit was sigbaar by die Joodse feeste, toe mense van oraloor na Jerusalem gestroom het om God te aanbid. En wanneer God na die stad kyk, is daar ’n glimlag in sy hart, want dan word daar iets sigbaar van die feit dat Hy God is van alle volke.
Eendag, met die wederkoms, sal dit waarvan hierdie psalm sing, waar wees. Dan sal God se vreugde groot wees omdat mense uit alle volke by die plek sal uitkom waar die hemel en die aarde ontmoet: by die kruis op Golgota. Dan sal God in die boek van die lewe die name van al die verlostes opteken, en skryf: “Hierdie een is ook my kind.”