Selfs in hulle ouderdom sal hulle nog toeneem in krag. Hulle sal fris en lewenskragtig wees. (vers 15)
Party mense word mooi oud, met vrugbare lewens. Dis verkwikkend om in hulle teenwoordigheid te wees. Ander word suur en knorrig oud, en as jy by hulle is, is jy ook sommer af.
Niemand wil ’n knorrige oumens word (of wees) nie. Psalm 92 sê die geheim lê daarin dat jy regverdig is (vers 13). Dit beteken dat jy in die regte verhouding tot God leef, en jou krag in die huis van die Here vind (vers 14). Daar waar jy saam met ander gelowiges aanbid, deelneem aan die erediens en sang, en die geproklameerde wil van die Here aanhoor, word jy innerlik gevorm en versterk.
’n Mens kan ook só daaroor dink: Hoe ouer jy word, hoe meer skraap die vernis van inhibisies af, en hoe meer word jy wie jy eintlik is. Ouer mense gee nie meer voor nie. As jy jou lewe lank ’n klakous is, gaan jy ’n knorrige oumens word. Begin daarom vandag bou aan jou karakter. Laat die Gees toe om jou te vorm na die beeld van Christus (2 Kor 3:18). Dan sal jy in jou ouderdom fris en lewenskragtig wees.
Views: 3