- Kyk tog, Here, en sien tog raak hoe verag ek is. (vers 11)
Die digter van die boek Klaagliedere beween die lot van Jerusalem en haar inwoners nadat Nebukadnesar se magte die stad en die tempel verwoes het en die room van die bevolking in ballingskap weggevoer het. Die eerste lied beskryf die totale verwoesting en ellende en troosteloosheid van die stad en haar inwoners. Elkeen van ons wat al in ’n situasie van hopeloosheid was, kan met dié smartkreet identifiseer.
Meestal soek ons ’n oorsaak vir ons ellende. Dikwels kry ander die skuld daarvoor, en uiteindelik wys ons die vinger ook na God. Hy is immers in beheer van ons lewens; Hy kon ons die ellende gespaar het as Hy wou. Maar Hy het nie. Dis byna die ergste: God kon, maar Hy het nie.
Dis merkwaardig dat die digter nie vir God blameer vir hulle ellende nie. Hy het wel alles daarmee te maak, maar dis hulle eie sonde wat hulle ingehaal het (vers 14).
As jy in jou nood nie ’n beskuldigende vinger na God wys nie, maar jou hande in nood en gebed na Hom opsteek (vers 20), kan jy weer begin hoop. God is groter as jou ellende. Daaraan moet ons vashou.
Views: 9