Ek wil my toespits op ’n onberispelike lewenswyse. Wanneer sal ek dit bereik? Ek sal met ’n opregte hart leef in my huis. (vers 2, 2020 vertaling)
Hierdie voorneme van Dawid herinner sterk aan Paulus se woorde in Filippense, waar hy sê dat om Christus te ken en een met Hom te word, sy enigste begeerte is (Fil 3:10). Dan voeg hy by (3:12): “Nie dat ek dit al verkry het of reeds volmaak is nie, maar ek streef daarna om dit my eie te maak.”
Dit is ook Dawid se voorneme: ’n onberispelike lewenswyse en ’n opregte hart, hoewel hy besef dat hy dit waarskynlik nie sal bereik nie. Maar tog spits hy hom daarop toe.
Dit is hierdie ywer vir die opregte en die goeie (vers 2b-3), vir integriteit in jou verhoudings (vers 5a), vir onkreukbaarheid en nederigheid (vers 5b), wat deel behoort te wees van enige gelowige se lewe. Navolgers van Christus kan nie agteroor sit en wag dat hulle asof vanself na die Here toe sal groei nie. Dit verg ’n doelgerigte toespitsing op wat reg is; ’n inspanning, soos Paulus sê.
’n Allesoorheersende begeerte om na Christus te groei – dís ons roeping.
Naskrif: Mag jy en jou mense ’n baie geseënde Paasfees beleef. Hierdie dae is heilig.