Daar is geen ander evangelie nie! Tog is daar mense wat die evangelie van Christus probeer verdraai, en dit is hulle wat vir julle in verwarring bring. (vers 7)
Ons weet dat Jesus Christus God se plan is om ons te red. Sy _hele_ plan. Party mense dink as jy iets hier en daar aanlas, verbeter jy God se plan. Dít is wat die mense in Galasië probeer het: hulle het gesê Christus is nie genoeg nie, jy moet jou ook nog besny en die Joodse wette nakom.
Vandag is daar mense wat sê: Christus is genoeg, ja, mits jy jou ook nog groot laat doop. En jy moet in tale kan spreek. En jy moet ’n datum hê waarop jy tot bekering gekom het. Paulus sê kort en klaar: daarmee is jy weg van die evangelie, weg van die goeie boodskap dat Christus, en Hy alleen, vir ons verlos het.
Christus het alles gedoen om ons nuwe mense te maak. Hy het ons verander, nuutgemaak. Daarvoor het Hy Homself gegee op Golgota.
Dít is God se plan – die enigste, volledige plan van verlossing. Christus is genoeg! Vir jou ook.
Views: 46






