Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (vers 29)
’n Lam. Swak, weerloos, nederig, onintimiderend. Al is, volgens sy eie getuienis later (Matt 28:18), aan Jesus alle mag gegee in hemel en op aarde. Al is Hy die Leeu uit die stam van Juda (Op 5:5). Dit is Hy ook. Maar die eerste woord wat oor Hom gesê word as Hy sy bediening begin, is dat Hy die Lam van God is. Die Een wat God gestuur het om geslag te word, geoffer te word, sodat die wêreld van sonde verlos kan word. Want só verlos God. Nie deur magsvertoon nie, maar deur ons sonde op Hom te neem en daarvoor te ly en te sterwe.
Partykeer is dít vir my die swaarste: dat ons God só is; ’n lam, eerder as ’n leeu, wanneer Hy in die wêreld optree.
Die feit dat Jesus die Lam van God is, het implikasies. Nie net vir wat ons van Hóm kan verwag nie, maar ook vir hoe óns as sy navolgers moet leef. Want as ons sy volgelinge wil wees, sal ons Hom ook hierin moet navolg: nie leeus nie, maar lammers.
Views: 29