Wie sou eintlik die vermoë hê om vir Hom ’n tempel te bou as die hemel, die hoogste hemel self, Hom nie kan bevat nie? (2 Kron 2:6)
Destyds is geglo dat ’n tempel die huis van die bepaalde godheid is, en dat die godheid daardeur as ’t ware aan daardie tempel vas is. Dit is waarskynlik hoe koning Hiram ook gedink het. Salomo was egter gou om hom reg te help. Die tempel wat hy wil bou, is wel daar om die Here te dien en te eer, maar dit kon nooit God se woonplek wees nie (vers 6). Daarvoor was God te groot.
Dié siening het die Jode gehelp om ondanks die ballingskap te bly glo. Al was die tempel verwoes, en al was die land waaraan Jahwe verbind is, verower, het dit nie afbreuk gedoen aan wie Jahwe is nie. Hy is, soos Salomo skryf, groter as die tempel of die land Israel.
God is groter as ’n tempel of ’n kerk waarin Hy vereer en gedien word. Daarom kan ons Hom ook buite die kerk ontmoet, want Hy is oral. Ons is egter nie panteïste wat glo God en sy wêreld is een nie. Ook die wêreld kan Hom nie bevat nie.