In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. (vers 4)
Om regtig te verstaan hoe dramaties en verrassend anders hierdie verhaal is, moet ons kyk na die destydse kultuur. Dit was een waar die vrou se plek in die kombuis was, punt. ’n Vrou het geen regstatus gehad nie en is as minderwaardig beskou. Dit was immers ’n vrou (Eva) wat sonde en ellende in die wêreld ingebring het, het hulle redeneer. Wat ons verder moet weet, is dat die Keniete (vers 11) nie Israeliete was nie, maar Midianiete.
Desondanks verlos die Here Israel deur twee vroue. Debora was ’n rigter en profetes. Jael was ’n Keniet. En tog was húlle die werktuie van God se redding. Want God kyk anders na mense as wat ons dikwels doen. Ons takseer mense op hulle baadjie en ken geykte rolle aan mense toe. Dié een is te sus en daardie een weer te so. Maar God deurbreek hierdie vooropgestelde kategorieë waarmee ons mense in hokkies plaas.
Jesus se optrede teenoor vroue was ook so. Hy het Hom nie gesteur aan sy tyd se vooroordele nie. Daarom was vroue van sy getrouste volgelinge.
My en jou roeping is om God hierin na te volg.