Hulle het my van jongs af swaar verdruk, […] maar hulle kon my nie onderkry nie. (vers 1-2)
Israel se bestaan is gekenmerk deur tye van erge verdrukking. Dit het al in Egipte begin, waar hulle as slawe onderdruk is. Ná die Uittog was daar in Kanaän lank verdrukking deur die Filistyne en ander nasies. Dawid het vrede gebring, en Salomo het daarop voortgebou. Dit was egter slegs sowat 80 jaar uit die ganse geskiedenis van Israel waar hulle lewe deur voorspoed gekenmerk is. Toe het die Assiriërs en Babiloniërs gevolg, en later die Grieke en Romeine.
Hulle het wonde wat dit bevestig (vers 3). Dié wonde verwys waarskynlik na die sweepslae van die slawedrywers in Egipte, maar ook na die verwoesting van Jerusalem ( Miga 3:12). Maar God is regverdig en bring verlossing uit die verdrukking (vers 4). Dit was so in die verlede, en daarvoor bid die digter in hierdie pelgrimslied. Want hy weet, uiteindelik sal God reg laat geskied en die rolle omdraai, sodat die verdrukkers bedroë daarvan sal afkom (vers 6-8).
Ek en jy wat in die lewe ook ervaar dat verdrukking en pyn oor ons pad kom, kan dit steeds bely. Ons behoort immers aan dié Een wat die Bose oorwin het.
Views: 6