Julle moet die Here prys, want leiers het opgetree in Israel, die volk het hulle aangemeld vir die oorlog. (vers 2)
Hierdie lied gee heelwat ander inligting as in hoofstuk 4. In opdrag van die Here kies Debora die Kisonspruit as gevegsterrein, en Sisera se strydwamag val vas in die stormwaters wat die Here gestuur het (vers 4).
Interessant dat Debora se lied meermale oor die leiers praat wat na vore gekom het om die volk te lei (vers 2,9,13,14,15). Daar is altyd mense wat magsposisies wil beklee, maar mense met karakter en daadkrag is meestal aan die min kant. Mense wag op leiding, maar as niemand na vore tree nie, gebeur niks. Daarom dat Debora so dankbaar was dat mense opgestaan het om die leiding te neem.
Suid-Afrika het tans ’n leier-vakuum. Daar is baie wat mag wil uitoefen, maar min wat leiding wil gee. Dis van die politieke bestel waar, en ongelukkig ook van die kerk. Ook gesinne sukkel met afwesige vaders.
Steek vandag jou hand op en vervul jou roeping vandag in jou sfeer van invloed – jou werk, jou huis, die kerk, die gemeenskap. Só kan God jou gebruik, soos Hy die leiers in die dae van Debora en Barak gebruik het.
Views: 18