Hulle het toe die ander gode tussen hulle uit verwyder en hulle het die Here gedien, en Hy het ’n end gemaak aan hulle swaarkry. (vers 16)

God se genade bly my steeds verras. Dit is totaal anders as wat ons dit sou uitdeel. Ons sou dink daar moet darem ’n einde aan vergifnis wees; dat nuwe kanse nie maar net oor en oor gegee kan word nie. Petrus het dit goed verwoord met sy vraag aan Jesus in Matt 18:21: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”
Dis ons. Gou om ’n streep in die sand te wil trek. Genoeg is immers genoeg.
Dis nie God nie. Hy vergewe altyd weer, soos Hy in die Tien Gebooie belowe: “Ek bewys my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet” (Eks 20:6).
Natuurlik moes Israel wys dat hulle berou eg is en die ander gode tussen hulle uit verwyder. Ons sou ewe skepties gevra het of hulle dié keer werklik berou het. Maar God gee hulle nog ’n kans. Gelukkig is God nie soos ons nie, anders was ons baie diep in die moeilikheid. G’n wonder nie dat Karl Barth God die Gans Andere genoem het.

image_pdfimage_print

Views: 16

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.