Jefta het ’n gelofte teenoor die Here afgelê en gesê: “As U die Ammoniete vandag heeltemal oorgee in my mag, sal dié een wat my uit my huis uit tegemoet kom wanneer ek behoue terugkom van die Ammoniete af, aan die Here behoort: ek sal hom as brandoffer offer.” (vers 30-31)
Hoewel baie kommentare al probeer het om Jefta se dogter se lot te versag, is daar geen aanduiding in die vertelling dat Jefta uiteindelik nié sy dogter as brandoffer geoffer het nie. Martin Luther het gesê dis aaklig, maar ons moet dit aanvaar.
Wat het hier gebeur? Israel se geloof en trou teenoor God het oor baie jare erg verweer, sodat dit wat die omringende volke gedoen het (soos kinderoffers) ook vir Jefta aanvaarbaar was, die absolute verbod daarteen in die Wet (Deut 12:31) ten spyt. Hy het dalk gedink dis hoe dit werk, want die omringende volke doen dit.
Hierdie tragedie onderstreep twee dinge: Ons verhouding met God werk nie met geloftes waardeur ons God kan dwing om op ’n bepaalde manier op te tree nie. En verder, as jy nie die Here en sy Woord goed ken nie, kan verkeerde oortuigings maklik by jou godsdiens insluip. Die feit dat almal so dink, maak ’n standpunt nie noodwendig reg nie.
Views: 117