Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. (vers 1)
Die Woord sê ons godsdiens, ons erediens, bestaan daarin dat ons onsself as lewende en heilige offers aan God gee. Ons diens aan die Here behels nie maar net ’n paar dinge wat jy elke dag of elke week moet doen nie, soos kerk toe gaan en stiltetyd hou en dankoffer gee nie. Dit omsluit ons hele lewe van dag tot dag. Ons hele lewe moet ’n erediens wees.
Wat gebeur as jy jouself weggee (vers 1)? Jy word God se besitting, sodat Hy jou beheer en jou hele lewe bepaal. Dan kan jy nie doen wat jy wil nie, want jy is God s’n, en jy doen wat Hý vra. Alles wat jy is en het, behoort dan aan God.
Hoe doen jy dit? Die Bybel sê: Ons moet verander. Want ons is nie vanself lewende heilige offers vir God nie. Jy sal weet dat dit onmoontlik is om te verander. Maar God kan dit doen (vers 2).
Gee jouself weg vir God, en gee Hom dan die kans om jou lewe te beheer en te verander! Dít is egte godsdiens.
Views: 22