Elisa het geantwoord: “Die Here het aan my geopenbaar dat jy koning oor Aram sal word.” (vers 13)

Ons is nou vir alle praktiese doeleindes by die einde van die Elia-Elisa verhale. Elisa voer die tweede laaste opdrag uit wat nog uit die tyd van Elia kom, naamlik om Gasael tot koning oor Aram aan te kondig (vgl 1 Kon 19:15-17). Sy laaste taak was om Jehu tot koning oor Israel te laat salf (2 Kon 9:1-3).
’n Mens kan jou nogal verwonder dat Elisa selfs buite Israel moes optree. Maar dan, die God van Israel is nie beperk tot Israel wat sy werksterrein en heerskappy betref nie. Hy heers oor alle volke en konings, en kan sy doel bereik, ook deur nie-Israeliete.
Vir Elisa was dit ’n bitter pil, want Gasael sou nie goed wees vir Israel nie (vers 12). Later sou Johannes die boodskap van die Here wat deur hom oorgedra moes word, beskryf as soet in die mond, maar bitter in die maag (Op 10:9-10). Dit is van ons ook waar. Die Woord van God is ’n vreugde om te oordink, maar dit vra dikwels van ons om standpunte in te neem of dinge te sê wat jy liewer sou wou los, soos Elisa.

image_pdfimage_print
Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.