Die mense van Efraim het altyd vir hulle gesê: “Julle mense van Gilead is weglopers uit Efraim en Manasse.” (vers 4b)

42 000 Efraimiete sneuwel by die Jordaandriwwe, en dit oor ’n broedertwis en lank-gekoesterde wrokke. Dis verskriklik. Ongelukkig gebeur sulke dinge vandag nog. Skeldwoorde en -name dryf mense en groepe uitmekaar. Helaas gaan dit onder gelowiges ook soms so. Gemeentes en kerke skeur oor persoonlike standpunte, soos met die krisis tans in die NG Kerk. Meestal lê daar agter dié opvlamming van verdeeldheid maande of selfs jare van bitterheid, jaloesie, agterdog en onvergewensgesindheid. Nou kry ons in die kerk die liberales en die verkramptes, en middelgrond is daar nie. Jy is óf vrysinnig, óf fundamentalisties. Punt.
Verdeeldheid spruit meestal uit diep-gewortelde en onversetlike houdings en standpunte. Sonder wedersydse begrip en deernis ontstaan verbittering wat soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet, sê Heb 12:15.
Die Nuwe Testament gee vir ons drie beginsels in dié verband: Eerstens, sê Jak 1:20: “’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie.” Tweedens leer Paulus dat ons nie ’n dag kwaad moet afsluit nie (Ef 4:26). En derdens waarsku Jakobus (3:16): “… waar daar naywer en selfsug is, kom daar wanorde en allerhande gemene dade.”

image_pdfimage_print

Views: 11

Teken in op my artikels

Teken in op my artikels

As jy inteken, kry jy al die artikels in jou epos posbus!

Sukses! Dankie dat jy ingeteken het.