Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.” (vers 35)
Daar is verkeerde redes hoekom mense Jesus aanroep, soos die skare wat agter Jesus aanloop in die hoop om kos te kry. Daar is mense wat Jesus as ’n soort gelukbringer en goeie fee in hulle lewe wil hê. Maar Jesus het nie gekom om alles in ons lewens reg te dokter nie.
Daar is ook mense wat hulle aan Jesus se aansprake erg, soos die Fariseërs wat sê Hy praat nonsens, hoe durf Hy sulke aansprake maak. Daar is vandag nog mense wat Jesus bloot as mens wil vereer, as ’n groot profeet en interpreteerder van God se wil, maar niks meer nie.
Wat ons moet hoor in Jesus se woorde, is die troosvolle belofte dat as jy na Hom toe kom, jy nooit weer sal honger kry nie, of dors nie. Want Hy is vir ons genoeg, soos Dawid in Ps 23:1 sê. Hy is die Een wat ons diepste behoeftes ken en vervul. Hy is die Een wat ons red, troos, bewaar, toerus deur sy Gees en ons lewens regeer.
Views: 10