Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” (vers 2)
Ons is van nature geneig om ’n oorsaak vir alles te soek. Iemand moet die skuld kry. As jy aan ’n ernstige siekte ly, moet daar fout wees met jou, want Jesus wil tog vir ons die lewe skenk, en dit in oorvloed (Joh 10:10). Só vererger ons mense se lyding, soos Job jou goed sal kan vertel.
Of dalk is God die oorsaak van jou ellende? Bely net jou skuld, dan sal Hy jou genees!
Kitsantwoorde help ons nie. Daarom verwerp Jesus hierdie soort redenasie. Dit help nie om te vra hoekom dit of dat oor jou gekom het nie, want ons kry gewoonlik nie ’n antwoord daarop nie (behalwe natuurlik as jou verkeerde leefstyl jou siek gemaak het).
Die hoekom-vrae bring ons nie verder nie. Jesus sê ons moet eerder die hoe-vraag vra: Hoe kan ek te midde van my probleem of siekte God verheerlik (vers 3). Hoe kan ek deur die manier waarop ek my kruis dra die lig op Jesus laat val?
Dís ’n vraag waarmee Jesus jou kan help!