Ek voel weer veilig, o God, ek wil ’n lied sing, ja, ek wil sing … (vers 2)
Dié psalm is ’n geloofsbelydenis dat God sál intree, al skree alles die teendeel. God het sy volk immers verstoot, en Hy trek nie saam met die leërs uit nie (vers 12). Tog sluit die psalm af met die gebed en onwankelbare vertroue dat God hulle sal help teen die vyande (vers 13-14).
Dit is wat geloof met jou regkry – dit laat jou veilig voel, selfs al verkeer jy nog in gevaar, want jy weet God sal Homself laat geld, ook al lyk dit of Hy afsydig is en jou verstoot het. Daarom kon Job selfs in sy diepste ellende uitroep (Job 19:25): “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!”
Dis die geloof wat gemaak het dat Christus aan die kruis nie sy Vader gelos het nie, maar end-uit aan Hom vasgeklou het, selfs in sy donkerste uur op Golgota. Daarom kon Hy aan die einde in vrede sy lewe in die Vader se hande oorgee (Luk 23:46).
Só ’n geloof hou jou regop, ten spyte van die donker dieptes om jou (Ps 23:4). So ’n geloof laat jou met hoop leef, en sing (vers 2).
Views: 22