Nadat Jesus dit gesê het, was Hy diep ontroerd … (vers 21, 2020-vertaling)
As ’n mens hierdie verse lees, besef jy iets van die warboel van emosies waarmee Jesus te kampe gehad het in daardie laaste paar uur voor sy dood. Jesus het nie maar soos ’n robot-outomaat sy dood gelate tegemoet gestap nie; Hy was ’n mens van vlees en bloed, ’n mens met emosies.
Die bittere teleurstelling wat Jesus in Judas moes gehad het, was een van die redes vir sy hewige ontsteltenis (vers 21, 1983-vertaling). Judas was immers een van Jesus se vertrouelinge.
Maar daar was nog ’n rede vir Jesus se ontsteltenis: Judas se verraad was die begin van ’n hele reeks gebeure waarin die mense wat die naaste aan Hom was, Hom sou teleurstel.
Jesus moes sy kruisweg alleen aanpak. En uiteindelik het Hy ook alleen gesterwe, nie net deur sy dissipels in die steek gelaat nie, maar ook deur sy Vader verlaat!
Ook dít is deel van die skuld wat Jesus vir ons gedra het: dat ons Hom, net soos die dissipels, op kritieke punte in die steek laat. Ons bly stil as ons moet praat, slaap as ons moet waak, kyk ander pad as ons vir Hom moet opstaan.
Views: 19