Die manskappe het na Silo toe gestuur, en die verbondsark van die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon, van Silo af laat bring. (vers 4)
Hierdie gebeure is sekerlik ’n laagtepunt in Israel se bestaan. Dit illustreer die feit dat hulle net soos die Filistyne redeneer. Hulle dink hulle kan God dwing om te maak wat hulle wil hê, en ronddra na waar hulle Hom nodig het. Die Filistyne het dit ook so verstaan (vers7).
Israel moes van beter geweet het. Die verbondsark van God is nie soos ’n heidense afgodsbeeld nie. Die soewereine God laat Hom nie ronddra en indruk waar mense Hom neem nie; Hy laat Hom nie manipuleer nie.
Dit het die Israeliete nie verstaan nie. Iewers langs die pad het hulle vergeet dat die verbond met God, waarvan die ark ’n simbool was, nie net seëninge bring nie, maar ook verpligtinge. En soos Moses destyds die kliptafels van die verbond stukkend gegooi het omdat Israel die ooreenkoms verbreek het (Eks 32:19), laat God nou toe dat die verbondsark gebuit word. Daar is geen verbond moontlik as mense ontrou aan God is nie.
God is nie in ons diens nie. Ons is in sý diens.
Views: 3