Dawid het vir die priester Agimelek gesê: “Die koning het my ’n opdrag gegee en gesê: ‘Niemand mag iets weet van die saak waarvoor ek jou stuur en wat ek jou beveel nie.’” (vers 2)
Wat hier gebeur is nie een van Dawid se grootste oomblikkie nie. Goed, hy vlug vir sy lewe en is paniekerig. Maar was die noodleuen geregverdig? Waar is die Dawid wat vol van die Gees die reus Goliat tegemoet geloop het? Wat in Ps 23:4 bely dat hy in gevaar nie bang is nie, want die Here is by Hom?
Dis iets waarmee ons almal sukkel: dat ons oomblikke van swakheid beleef waar ons vertroue in God se sorg ons ontglip. Die spreekwoord sê ’n benoude kat maak benoude spronge, en dit sal ons goed doen om mooi te let op wat met Dawid gebeur het, en veral die gevolge van sy benoude spronge. Dit het uiteindelik die hele priesternedersetting Nob se einde beteken (1 Sam 22:6-19).
Ons lees van ’n ander geleentheid in die Bybel waar Iemand ook benoud was, só benoud dat sy sweet soos bloeddruppels geword het. Hy het egter nie paniekerig geword nie, maar sy krag by sy hemelse Vader gekry (Luk 22:39-46). O, om soos Jesus te wees!