Mag God ons genadig wees en ons seën, mag Hy tot ons redding verskyn… (vers 2)
Ons bely dat die Here Jesus Immanuel is, God by ons. Maar as ons na hierdie wêreld kyk, sien ons daar maar bloedweinig van. Trouens, jy kan maklik tot die gevolgtrekking kom dat God juis nie op hierdie aarde teenwoordig is nie. Iemand het eenkeer gesê dat daar genoeg lyding in ’n enkele straat in Londen is om te bewys dat God nie bestaan nie. En dan praat ons nie eers van Suid-Afrika met al sy ellende nie.
Dit is met hierdie selfde probleem wat die digter van ons psalm worstel. Daarom begin hy die psalm met die woorde: “Mag God ons genadig wees en ons seën, mag Hy tot ons redding verskyn …” Maar as hy gaan sit en stil word, besef hy: God ís hier. God hét ons geseën, al het hy dit tot nou toe nie besef nie, omdat hy Hom op die verkeerde plek gesoek het. Daarom bely hy in die tweede deel van die psalm: Die land het sy oes gelewer. God het ons geseën (vers 7-8). Hy regeer regverdig oor die nasies (vers 5).
Jy sal God ook in jou wêreld sien, mits jy met geloofsoë kyk.