Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees! (15:13)
Met die pragtige bede van vers 13 sluit Paulus die hoofbetoog van sy brief, wat al in 1:18 begin het, af. Deur jou geloof sal die vreugde en vrede van God jou lewe vul en jou hoop sterker word. Dis wat Paulus vir sy lesers bid, want iemand wat met vreugde en vrede leef, het nie kopspasie vir bakleiery oor kos en drank en ander beuselagtighede (wat hy in hoofstuk 14 hanteer het) nie. Só iemand se fokus is die hoop op God.
Dié hoop berus op die seker wete dat God se beloftes in Christus waar sal word, nou en eendag. Dis nie iets wat ons wens sal gebeur nie; dis iets wat ons wéét vir ons wag. Hoop, soos verlossing, lê nie in jou eie pogings nie. Dit kom van God, die bron van hoop. Hy verander jou fokus en verwagtinge. Na die mate wat jy inniger aan Hom verbonde leef, groei jou hoop ook. Hy maak dat jy met oorgawe, soos die vroeë kerk, bid (vgl Op 22:20): “Kom, Here Jesus, ja, kom gou!”
Views: 22