Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het. (Ps 13:6)
Hoe meer ’n mens tob oor jou situasie, hoe dieper sink jy weg in die moeras van vertwyfeling in. Jy kan nie ’n uitkoms uit jou situasie sien nie. Niks maak sin nie, en die ergste van alles is dat God ook skynbaar afwesig is. Jy roep, maar Hy antwoord nie.
In só ’n situasie van vertwyfeling is die wete dat die Here jou nie sal los nie, die enigste ligpunt. Soos iemand opgemerk het: Sy het nog altyd geglo dat die Here anderkant haar twyfel op haar wag. Die digter se verwyt in vers 2 en 3 is nie billik nie; ’n gelowige wéét God los hom nie. Selfs in die donkerste tye van jou lewe maak dié sekerheid jou kalm. Daar is net Een wat regtig van God verlate was (Mark 15:24), sodat ons nooit ooit van God verlate sal wees nie (Nagmaalsformulier van die NG Kerk).
Dié waarheid daag ook vir die digter. In vers 13 gryp hy vas aan God se troue liefde, en kry hy uitsig uit sy donkerte. Jy kan ook!