Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig. (vers 10a)
Die psalm het ’n akrostiese opbou: elke nuwe reël begin met die volgende letter van die Hebreeuse alfabet (in die 1953- en 2020-vertalings word dit so aangedui). Dit maak dat die psalm makliker onthou kan word, sonder dat dit ’n storielyn nodig het. Daarom is die verskillende versreëls redelik los van mekaar, behalwe dat die eerste deel (verse 2-7a) oor die dade van trou van Jahwe gaan, en die tweede deel (verse 7b-9) oor God se verbondsvoorskrifte.
Die psalm is dus vir kategese gebruik, en die boodskap is: God moet geprys word vir sy trou en redding in die geskiedenis, en vir sy voorsiening van die riglyne van die wet.
Ons het baie meer as ou Israel. Ons het God se dade in Christus Jesus wat ons verlos het van ons sonde, én ons staan in ’n nuwe verbond met ’n nuwe wet: liefde (Joh 13:34). Om Hom lief te hê, is ’n teken van ware wysheid en insig. Daarom sluit die psalm af met ’n wysheidspreuk (vers 10). Wysheid is iets anders as kennis en slimmigheid. Dit is om jou lewe volgens die Here se voorskrifte in te rig.
Views: 11