… hy laat sy lig in die donker uitstraal vir die opregtes, hy is genadig, barmhartig en regverdig. (vers 4)
Psalm 112 is, net soos Ps 111, ’n akrostiese psalm. Die twee hoort saam. Waar Ps 111 praat oor die trou van God en sy verbond, praat Ps 112 oor gelowiges en die implikasies vir jou lewe as jy God dien.
’n Gelowige leef onder die seënende sorg van God (vers 1-3). Dis ’n blymoedige mens, en God se seëninge vloei oor na sy nageslag, sodat die goddeloses met afguns daaroor vervul word (vers 10).
’n Gelowige ontvang egter nie net God se goedheid nie. Hy deel God se seëninge mildelik uit aan ander (vers 4-6 en 9). Sy optrede verander sy omgewing ten goede, want hy is soos sy hemelse Vader genadig, barmhartig en regverdig in sy handelinge met ander (vgl Eks 34:6).
Dis goed om van tyd tot tyd hierdie prentjie van ’n gelowige voor jou te hou, want dis hoe ek en jy ook moet lyk as navolgers van die Here Jesus. Hy het immers die prent wat hierdie psalm vir ons ophou, voorgeleef en ons in Matteus 5:6 geleer: “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”
Views: 27