Ja, by U is die fontein van lewe, in u lig sien ons lig. (vers 10 BDV)
Die BDV vertaal vers 2 baie anders as die NAV: “’n Uitspraak oor die oortreding van die goddelose mens leef in my gedagtes:” En dan vertel hy vir ons hoe goddelose mense is; hoe hulle vir hulleself leef en geen eerbied vir God het nie, en daarom sonder enige gewetenswroeging maak en breek soos hulle wil.
Dis asof dít wat goddelose mense doen, sy denke oorheers het, totdat hy in die tempel (vers 8) rus in God se teenwoordigheid gevind het. God se goedheid is in skrille kontras met die kwaad van goddeloses (vers 6-11). Sy liefde en trou reik tot in die wolke. Sy reg en geregtigheid is dieper as die see. Hy sorg vir al wat lewe en beskerm gelowiges teen hulle vyande.
Ons word almal elke dag met kwaad en onreg gekonfronteer, en dit kan ons gedagtes só oorheers dat ons die hele dag daaroor tob. As dit met jou gebeur, maak soos Dawid: word stil en vind rus in God se teenwoordigheid, want by Hom is die fontein van lewe.
Views: 10