En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.” (vers 29)
Ons kan heelwat in Jesus se gesprek leer oor wat dit beteken om te glo.
Geloof beteken om Jesus te volg, nie ter wille van die voordele nie – hoewel dit natuurlik nie onbelangrik is nie – maar omdat ons Jesus liefhet en vir Hom wil lewe. Juis dít was die skare se probleem: hulle het agter Jesus aangegaan omdat hulle die wonders gesien en beleef het wat Hy doen, nie omdat hulle in Jesus geglo het nie (vers 26).
Geloof beteken om jou aan die Here te verbind, na Hom te kom (vers 45), aan Hom vas te hou en lief te hê wanneer dit goed met ons gaan, en ook wanneer dit swaar gaan. Dit is amper soos ’n huwelik, waar huweliksmaats aan mekaar getrou bly deur dik en dun, nie oor die voordeel wat hulle daaruit trek nie, maar omdat hulle mekaar liefhet.
Geloof vra van jou om jou met Christus te vereenselwig (vers 53). Dit beteken onder andere om jouself prys te gee, en kan ook van jou vra om ter wille van Hom swaar te kry en selfs te ly (vgl Matt 10:38).
Views: 58