Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. (vers 17)
Matteus 28 sluit waar Jesus sy dissipels groet voor Hy terug hemel toe is. Hulle staan in aanbidding voor Hom – maar party van hulle twyfel (vers 17)! En asof die twyfel nie genoeg is nie, verstaan hulle nóú nog nie God se plan nie. Hulle droom steeds politieke drome, van die koninkryk van Israel, bevry van die Romeinse oorheersing (Hand 1:6).
Vir dié groepie dissipels moet Jesus groet, en vra dat hulle sy taak op aarde voortsit. Húlle moet die hele wêreld ingaan en die mense Jesus se dissipels maak. ’n Mens kan dit amper nie glo nie. Hoe kan Jesus dink dié treurige klompie kan sy taak voortsit?
Dis hoe mense dink. Maar dis nie hoe God dink nie! Hy sien nie ’n groepie beteuterde en twyfelende mense bymekaar nie. Want Hy weet hoe hulle getroue, bruikbare werktuie in sy hand gaan word, hoe hulle gaan verander as Hy hulle met sy Gees aanraak. Hoe sê Jesus nou weer? “En onthou, Ek is by julle …” (vers 28).
God soek nie noodwendig geloofsreuse nie. Hy soek mense wat sy stem gehoor het en bereid is om te reageer. Hy soek jóú!
Naskrif: Ons begin môre met die boek Rigters.
Views: 67