Prys die Here, alle nasies, loof Hom, alle volke … (vers 1-2)
Die oproep om die Here te prys, gaan na alle nasies, alle volke. Dit is vreemd as ons in ag neem dat dit in die Ou Testament staan. Hoewel God beplan het dat “al die volke van die aarde” in Abraham geseën moes word (Gen 12:3), het dit nie regtig gerealiseer nie. Israel voor die ballingskap het nooit gedink God heers ook buite die grense van die beloofde land nie. Eers toe hulle in Babel kom, besef hulle dat God ook daar is.
Dit is vir baie van ons vandag steeds ’n probleem om te verstaan dat God ook mense buite ons onmiddellike kring liefhet. Mense van ander kerke, ander bevolkingsgroepe en ander agtergronde word daarom dikwels met agterdog bejeën. Ons wil God opeis vir “ons eie mense”.
Psalm 117 trek ’n streep deur dié verenging van God se genade, liefde en trou. Daar is geen einde daaraan nie (vers 2); nie in tyd nie, maar ook nie in strekwydte nie. So lief het God die wêreld gehad, sê Joh 3:16. En eendag in die hiernamaals sal ons deelneem die oproep van Ps 117 wanneer alles wat daar is, in ’n magtige loflied God sal prys (Openb 5:13).
Views: 17