Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen. (vers 11)
Baie gelowiges is bang vir die wederkoms. Mense sê mos jou lewe sal soos ’n rolprent voor jou afspeel, en alles sal dan uitkom.
Ek moet sê, as dit waar was, sou ek ook bang gewees het. Maar gelukkig is dit nie waar nie! Paulus skryf in vers 9: “God het ons tog nie bestem om gestraf te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word. Hy het ter wille van ons gesterwe sodat ons, of ons by sy koms nog lewe of reeds dood is, saam met Hom kan lewe.” Paulus praat hier nie van ’n spesiale groep super-Christene nie, maar van gewone gelowiges. Ons hoef nie die wederkoms te vrees nie, want ons ken tog die Een wat kom, die Here Jesus. Ons ken Hom as ons oudste Broer en Verlosser. Daarom sal die wederkoms en die laaste oordeel nie vir ons ’n vreeslike dag wees, ’n dag van oordeel nie. Christus het klaar ons oordeel gedra op Golgota.
Op ’n ander plek (Rom 8:1) skryf Paulus: “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.”
_Naskrif:_ Ons gaan DV môre aan met 2 Tessalonisense.
Views: 54