Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan. (vers 1)
Die psalm begin met die stellige uitspraak dat dié wat op die Here vertrou, altyd vas sal bly staan. Hy grond dié sekerheid op die feit dat die Here self die standvastigheid bring (vers 2). Soos Jerusalem van ouds ’n feitlik oninneembare vesting was, beskut deur die berge rondom, so is ek en jy veilig binne die beskerming van God.
Dit is goed om van tyd tot tyd by dié wonderlike troos stil te staan en daaroor na te dink. Te dikwels vergeet ons dit, raak onrustig en kyk angstig rond. Wanneer dit met jou gebeur, haal diep asem en fokus op die Here. Sien in jou geestesoog die Here se beskerming om jou, soos Elisa van ouds gebid het dat sy slaaf dit moes sien (2 Kon 6:15-17).
Dié sekerheid kom nie vanself nie. Dis iets wat ons moet inoefen, elke dag, totdat dit later die eerste wete is in enige situasie: Die Here is by my, en ek is veilig in sy hande (Ps 23:4). Dit is presies wat die Here Jesus ook belowe het in Joh 10:28 – niemand kan ons uit sy hand ruk nie!
Views: 23