Wie met trane saai, sal die oes met gejuig inbring. (vers 5)
In die psalm dink die digter terug aan die wonderbaarlike uitkoms wat die Here in die verlede bewerk het, en hoe oorstelp hulle was. Maar nou is daar wéér nood. Die beeld wat hy gebruik, is dié van die Suidland, amper soos in die Karoo. Alles lyk dood en vergaan, maar as die reën kom, bruis die riviere weer en is alles in ’n ommesientjie groen.
In swaar tye kan ons glo dat God ons sal vashou en dra en anderkant sal uitbring. Daar is hoop, want ons is in die hande van ’n wonderlike God wat omgee.
Verder: die goeie kom dikwels juis uit die swaar tye na vore. Die beeld wat hy in vers 5-6 gebruik, is van ’n boer wat in ’n tyd van bittere droogte en skaarsste is. Daar is nie meer kos nie, en elke handvol saad wat hy saai, is ’n handvol kos wat hulle eintlik moes geëet het. Daarom saai hy huil-huil, want hy weet van die honger by die huis. Maar op hierdie selfde lande sal God ná die reëns weer ’n ryke oes voorsien.
Ek en jy kan met hoop leef, want ons behoort aan dié God wat voorsien.
Views: 130