Geen grond mag permanent verkoop word nie, want die land behoort aan My. Julle is slegs vreemdelinge en bywoners by My. (vers 23)
Die reëlings oor die sabbatsjaar en die jubeljaar (hersteljaar) is vir ons moderne lesers uiters vreemd, en baie verklaarders wonder of dit ooit werklik só toegepas is. Tog is daar aanduidings in die Ou Testament dat dit wel gegeld het. Terloops, die woord “jubel” kom van die Hebreeuse woord wat “ramshoring” (vers 9) beteken.
Wat dié reëling beklemtoon, is dat die land nie Israel s’n is om mee te maak wat hulle wou nie. Die land behoort aan God (vers 23), wat dit in sy goedheid aan hulle gegee het, nie om eiegeregtig te besit nie, maar eerder om dit te bewerk en te bewaar (vgl Gen 1:28). Daarom beveel Hy as eienaar dat sy lande op ’n gereelde grondslag moet braak lê sodat dit kan rus en die vrugbaarheid kan herstel.
Jou verhouding met God en met ander mense tel swaarder as jou besittings, en daarom stel God die reëling van die sabbatsjare en jubeljare in om mense die geleentheid te gee om uit ’n spiraal van skuld te kom. God se barmhartigheid moet ook in die onderlinge verhoudings tussen mense sigbaar word.