Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. (vers 24)
Die eerste hartverskeurende deel van hierdie klaaglied (vers 1-17) verskil dramaties van die tweede deel, wat ’n heel ander toon het, en selfs hoopvol is.
Hoe verklaar ’n mens dit? Wat het die wending by die digter gebring?
Dit lyk my iets het in die digter se hart gebeur. In die eerste 17 verse is hy net kwaad en voel hy ver verwyder van God. God is sy vyand, glo hy, en hy is só ontnugter daaroor dat hy nie eens God se Naam wil uitspreek nie. Hy praat die heeltyd oor wat God doen, maar hy praat van “Hy”. God is ver en onpersoonlik, ’n voorwerp vir wie hy kwaad kan wees.
In vers 18 kom die wending. Hy begin weer aan die Here dink as Iemand wat met hom besig is, iemand met wie hy kan praat. Dit bring hom daartoe dat hy begin dink oor die Here en hoe hy Hom oor die jare leer ken het, en besef dan dat wat met hom gebeur, nie kom van ’n God wat behae put in hulle ellende nie, maar omdat hulle ongehoorsaamheid Hom daartoe gedwing het.
Views: 31