Die straf vir jou sonde is beëindig, Sion, die Here sal jou ballingskap nie laat voortduur nie … (vers 22a)
’n Mens kan jou nouliks die ellende indink wat hier beskryf word: hongersnood só erg dat ma’s hulle eie kinders slag en eet (vers 10); kinders smeek tevergeefs vir kos (vers 4); mense wat in die strate strompel en dood neerslaan van die honger (vers 5) te midde van hulle geliefde stad wat in puin lê. En hulle koning, hy na wie almal opgesien het vir beskerming en leiding, is gevang en weggevoer (vers 20).
Die wete dat hierdie verwoesting van die Here self kom (vers 11) en die besef dat dit hulle eie sonde is wat dit veroorsaak het (vers 13) dra aan die een kant by tot hulle verplettering, maar aan die anderkant is dit ook die bron van hulle hoop. Hulle sonde ís gestraf. Dit is nou verby. Die room van die land is weggevoer. Maar die Here is nog hulle God, en Hy sal die ellende nie vir altyd laat voortduur nie (vers 22).
Dít is die hoop waarmee ons vandag nog leef – dat ons lewe en ons toekoms in God se hand is. Hy draai nie sy rug op jou nie.
Views: 16