Ek weet, die Here behartig die regsaak van die hulpelose, Hy sorg vir die reg van die arme. (vers 13)
Die spreekwoord sê die pen is magtiger as die swaard. Die tong is egter nóg magtiger. Dawid stem met my saam. Hy sê mense blaas vyandskap aan; hulle tonge is so giftig soos slange (vers 3,4). Skindertonge is ’n probleem in die land (vers 12).
Die Spreuke-digter sê ’n tong wat lieg is een van die sewe dinge wat die Here haat (Spr 6:17), en ’n tong wat kwaad stig, sal uitgesny word (10:31). Jakobus het ook heelwat te sê oor die mag van die tong (Jak 3:1-12; veral 3:6).
Hoe gemaak as jy die slagoffer van giftige tonge is? Terugskel is nie hoe Dawid antwoord nie. Hy wend hom tot God (vers 7). Ons stryd is dikwels nie net geestelik nie. Dikwels het ons ’n aardse stryd teen skindery en skelmstreke. Dawid kla dié mense by die Here aan en bid dat die Here sy saak sal behartig (vers 13).
Uiteindelik is die sekerheid dat die Here omsien na die hulpelose ook rede om God te loof (vers 14). Só word jou tong ’n magtige instrument in die koninkryk.
_Naskrif:_ Ons eindig ons lees van die Psalms voorlopig hier. Môre begin ons met die brief van Jakobus.
Views: 7