Toe sê die koning vir my: “Is daar iets wat jy my wil vra?” Ek het ’n skietgebed opgestuur na die God van die hemel … (vers 4)
Die boek Nehemia is ’n loflied op die krag van gebed. Dit begin waar Nehemia, nadat hy van Ganani gehoor het van die haglike situasie in Jerusalem, God genader het (1:5-11). Dit was nie ’n eenmalige gebed nie. Hy het vier maande lank biddend gewag tot die Here vir hom die opening gegee het. Dit lyk uit die teks asof hy gewag het tot die koningin by is (vers 6). Dalk het hy vermoed dat sy hom sal help om die koning sover te kry om sy versoek gunstig te oorweeg. Vroue is dikwels meer simpatiek as mans.
En dan, toe hy uiteindelik, ná vier maande gebedsworsteling die geleentheid kry, bid hy weer. Hy stuur sommer daar in die eetsaal ’n skietgebed op.
Gebed is deel van ’n lewende verhouding met God. Meestal soek ons ons binnekamer daarvoor op, maar daar kom ook tye wanneer jy nie kan wag tot jy in jou binnekamer kom nie. Dan kan jy gerus soos Nehemia maak en net daar, op die plek, met die Here praat. Hy wag vir jou!