Mag ons seuns wees soos plante wat hoog groei in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare, uitgebeitel soos vir ’n paleis. (vers 12)
Ná my worsteling met dié psalm kan ek verstaan hoekom ’n predikant in ’n preek oor Ps 144 liries geraak het oor “ons dogters soos hoekpilare”. Hy het allerlei deugde opgenoem waaraan die dogters as pilare voldoen, en dan hierdie juweeltjie: “’n Pilaar is regop, en as jy ‘regop’ omdraai, kry jy opreg. Dís hoe ons dogters moet wees: opreg.”
Ewenwel, dié psalm pas nie lekker in in enige kategorie nie. Dit bevat elemente van lof, gebed om ingryping en ook seën. Dit lyk eerder na ’n samestelling of bloemlesing uit ’n hele klomp psalms, o.a. Pss 8, 18 en 90. Die eerste deel van die psalm (vers 1-11) werk met die teenstelling van God se almag en beskerming (vers 1-2, 5-6, 10-11) aan die een kant, en die digter-koning se nietigheid (vers 3-4) aan die ander kant. Dit lyk of eertydse bondgenote hulle eed teenoor die koning verbreek het (vers 7-8 en 11); vandaar die dringende gebed om hulp.
Ná sy pragtige gebed om seën vir sy mense (vers 12-14) bely hy: “Dit gaan goed met die volk wie se God die Here is!” Inderdaad.