Ek wil die Here loof solank ek leef; ek wil my God besing solank ek bestaan. (vers 2, 2020-vertaling)
Vir die psalmis is die lewe ’n loflied. Dit is nie net die strekking van Psalm 146 nie, maar ook van die laaste kort versameling van vyf halleluja-liedere (Psalms 146-150) waarmee die psalmboek afsluit. Met hulle keuse van hierdie vyftal lofliedere as slot, wil die versamelaars van die psalmboek sê dat daar ’n einde kom aan alle droefheid, swaarkry, sorge, verlange en klaagliedere en dat dit plek maak vir ’n groot loflied. Hierdie visie op die lewe begin met Psalm 146 wat ’n loflied op die lewe is. Natuurlik is dit eintlik ’n loflied op die Here wat die lewe daargestel het en onderhou.
Jesus het gekom om ons swaarkry te beëindig. Wanneer Hy in Nasaret preek, sê Hy dit in soveel woorde (Lukas 4:16-20; sien ook Jesus se antwoord aan Johannes die Doper in Lukas 7:22). Jesus het gekom om die swaarkry van mense soos die uitgeworpenes, onderdruktes, hongeriges, krygsgevangenes, blindes, vreemdelinge, weduwees en wese te beëindig. Hy het gekom om ons klaagliedere in lofliedere te verander. Daarom kan ons uit volle bors met die digter van Psalm 146 saamsing.
Doen jy dit?