Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. (vers 23-24)
Baie mense is onseker of hulle saak met God reg is. Hulle dink dat dit van hulle goeie dade afhang of hulle in die hemel sal kom. Die Bybel sê: Ons word nie gered omdat ons goeie werke doen nie, maar omdat ons in Jesus Christus glo (vers 21-22). Ons word gered sonder dat ons dit verdien (vers 24, 28).
Ons is ver van God af (vers 23), verlore. En – ons is te swak om iets aan ons eie hopelose situasie te verander.
Het jy al met jou sondeskuld na God gegaan en dit op die Here Jesus gelaai sodat Hy dit kan wegneem? Dank dan die Here vir sy onuitspreeklike goedheid, dat Hy jou nie behandel soos jy verdien nie, maar jou vergewe. En as jy dit nog nie gedoen het nie, moenie dink jy moet eers beter word voor jy goed genoeg sal wees om gered te word nie. Gaan sommer nou nog na die Here. Hy wil ook jou sonde wegneem, as jy Hom net sal toelaat.
Views: 34