Ek sal tussen die Israeliete woon, Ek sal my volk Israel nie verlaat nie. (vers 13)
Van altyd af was groot bouprojekte bedoel om vir die bouer(s) naam te maak. Dink maar aan die toring van Babel (Gen 11:4). Dit was waarskynlik een van die motiewe van Salomo met die bou van die tempel. Interessant genoeg, wanneer die skrywer van 1 Konings Salomo se nalatenskap weergee, is dit nie die tempel wat vir hom voorop gestaan het nie, maar sy wysheid (1 Kon 4:29-34). Selfs in hoofstuk 6, waar die skrywer ons breedvoerig inlig oor hoe die tempel gelyk het, relativeer hy die tempel deur ’n woord van die Here midde-in sy ellelange relaas oor die bouwerk (vers 11-13). Want in God se oë is die tempel nie die belangrikste saak nie, maar gehoorsaamheid (vers 12). Daarsonder sal die seën van die Here ook verdwyn. As hy hom egter hou aan die Here se bepalings, vereistes en voorskrifte, sal God tussen hulle woon (vers 13).
Ons weet dat dit nie gebeur het nie. Die tempel is uiteindelik met die grond gelyk gemaak (2 Kon 25:8 e.v.). Maar God het tóg sy belofte gehou en in Jesus onder sy mense kom woon (Joh 1:14; vgl Matt 1:23 en 28:20).
Views: 28