Toe Hiram hierdie stede wat Salomo aan hom oorgedra het, uit Tirus gaan besigtig, was hy teleurgestel … (vers 12)
Die ware Salomo begin hier al meer deurskemer. Nie net is die Here se belofte oor die tempel baie meer genuanseerd as wat ’n mens sou verwag nie (kyk na die uitgebreide waarskuwing in vers 6-9), maar ook Salomo se sake-etiek maak mens ongemaklik.
Tot nou toe het ons slegs gelees van hout en vakmanne wat Hiram gelewer het, maar nou kom goud ook by (vers11). Klaarblyklik het Salomo se bouprogram die staatskas leeggetap en moes hy geld by koning Hiram leen om daarvoor te betaal. Om die lening af te los, gee hy vir Hiram ’n minderwaardige gebied (vers 13). By al sy rykdom was Salomo blykbaar nog ’n vrek ook.
Spr 22:1 sê: “’n Goeie naam is meer werd as groot rykdom, die goeie gesindheid van ander meer as silwer en goud.” Dit is iets wat Salomo nie verstaan het nie, en baie gelowiges vandag steeds nie. Ek en jy dra as Christene boonop die Naam van Christus oor ons lewe, en wat ons doen of nalaat, reflekteer op Hom. Sal ons Christus se Naam bevlek vir ’n paar rand se skelm wins?
Views: 14