Die stamme Manasse en Efraim, nakomelinge van Josef, het die grondgebied gekry. (vers 4)
Daar was nie ’n Josef-stam in Israel nie; wel Efraim en Manasse. Hulle was nie Jakob se seuns nie, maar kleinseuns; die seuns van Josef (lees hoe Jakob hulle ook geseën het in Gen. 48), wat saam met die ander stamme grond gekry het. Daar was dus eintlik dertien stamme, maar die Levi-stam het nie hulle eie grond gekry nie (Num 1:47-50). Die rede vir dié vreemde verdeling lê waarskynlik in die erfreg-stelsel van Israel. Daarvolgens het die oudste seun ’n dubbele erfposie gekry. Maar ons weet dat Ruben (Jakob se oudste seun by Lea) dié reg verbeur het toe hy by sy pa se byvrou Bilha geslaap het (Gen. 49:3-4; vgl. Gen. 35:22). Jakob het dus vir Josef, sy oudste seun by sy lieflingvrou Ragel, die hooferfgenaam gemaak (Gen. 49:26). Josef se nakomelinge kry daarom ’n dubbele deel.
Die hartseer is dat Josef se nakomelinge nié hierdie voorreg benut het nie. Hulle het nie die Kanaäniete in Geser verdryf nie (vers 10). Uiteindelik het dié stuk ongehoorsaamheid bygedra daartoe dat hulle as stam verdwyn het. Dis nie wat jy ontvang het, wat tel nie, maar wat jy daarmee maak (Matt. 25:14-30).
Views: 3