Abia het dieselfde sondes as sy pa gedoen, en hy was nie so getrou aan die Here as sy voorvader Dawid nie. (vers 3)
Koning Dawid was die maatstaf waaraan al die konings van Juda gemeet is. Min het ’n regmerkie van die skrywer gekry; Asa (vers 11) was een van die uitsonderings, Abia nie (vers 3).
Dawid was nie sonder sonde nie, soos die skrywer ons in vers 5 herinner as hy die hele smartlike verhaal van sy owerspel met Batseba en die moord op haar man Urija oproep. Hy was ’n briljante krygsgeneraal, maar as politikus en pa het hy maar vrot gevaar. Tog word hy dié voorbeeld in die Ou Testament van ’n man na God se hart (1 Sam 13:14 en Hand 13:22).
Ons kan twee dinge hieruit leer. As jy gesondig het, is dit nie die einde van jou pad met God nie, mits jy jou natuurlik in berou na die Here draai. By Hom is daar altyd vergifnis te vind, selfs vir owerspel en moord! Verder verwag God nie van jou om in alle opsigte perfek te wees nie. Maar wat ononderhandelbaar is, is dat jy Hom moet liefhê, soos Dawid. Dán is jy iemand na God se hart.
Views: 13