So het Jehu die Baäldiens uit Israel verdelg. (vers 28)
Daar is verskillende maniere om na Jehu se optrede te kyk. Die skrywer van 2 Konings was redelik positief oor hom, omdat hy Israel van die huis van Agab en die Baäldiens bevry het. Volgens die skrywer was die Here tevrede met wat gebeur het (vers 30). Hy voeg egter by dat Jehu die Here nie heelhartig gehoorsaam het nie en steeds Jerobeam se kalwerdiens in stand gehou het (vers 31). Die feit dat die Here toegelaat het dat Israel se grondgebied kleiner geword het (vers 32) spreek ook boekdele.
’n Honderd jaar later het die profeet Hosea opgetree, en hy huiwer nie om Jehu se optrede skerp te veroordeel nie. Hy sê die Here gaan die koningshuis van Jehu laat boet vir die bloedbad in die stad Jisreël (Hos 1:4).
Mense sê maklik die Here is in die Ou Testament ’n bloeddorstige God wat dikwels moord en doodslag beveel het. In die lig van die stryd om die behoud van die aanbidding van Jahwe te midde van die verleiding van die Baäldiens en ander Kanaänitiese afgode, is dit nie so ’n eenvoudige saak nie. Klaarblyklik was die bloeddorstigheid van ’n man soos Jehu nie vir God aanvaarbaar nie.
Views: 14