As ’n mens sterf, sal hy weer lewe? Dan sou ek al die dae van my swaarkry kon wag tot daar vir my nuwe lewe kom. (vers 14)
Die idee van ’n lewe ná die dood het nog nie in Job se tyd bestaan nie. Destyds het hulle geglo dat die dood die einde is; dat jou toekoms in jou kinders se voortbestaan gesetel is (vers 10-11). Dit was eers in die tyd van die ballingskap (honderde jare later), onder invloed van die Persiërs, dat die gedagte aan ’n hiernamaals by die Jode posgevat het. Die Fariseërs het dit in hulle teologie opgeneem, en Jesus het daarby aangesluit (Luk 23:43).
Job se uitspraak hier is daarom besonder merkwaardig, want teen die aanvaarde opvatting van sy tyd hoop hy tóg teen alle hoop in dat daar ’n toekoms vir hom ná die dood mag wees (vers 14). Dis asof hy hier die eerste saadjie van ’n toekomsverwagting by Ou Israel plant.
Ons weet natuurlik vandag dat daar ’n lewe ná die dood is. Daarvan vertel Jesus ons, en Paulus, en natuurlik die boek Openbaring. Selfs in jou donkerste uur is dié verwagting jou troos – ons het ’n toekoms saam met Jesus!
Views: 20