Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.” (vers 71)
En daar verloën Petrus sy Here. Hoe kón hy?
Waarskynlik het daar in Petrus se geloofslewe ’n subtiele, maar ’n baie fatale verskuiwing plaasgevind. Sy verklaring dat al sou almal vir Jesus verlaat, hy dit nie sou doen nie (vers 29), verraai ’n vertroue op homself en sy eie vermoëns, eerder as op God en sy genade.
Geloof werk nie so nie. Dis nie ’n selfstandige vermoë wat ek ontwikkel en wat my minder afhanklik van God se krag en bewaring maak nie. Dit is eerder ’n al sterker en meer konsekwente leef uit die krag en die genade van God. Dis nie ’n geestelike armspier wat al beter vertoon hoe meer ek oefen nie. Dit is eerder ’n hand wat al groter oopgaan en wat my al meer laat ontvang wat God vir my wil gee en wil wees. Hoe sterker my geloof, hoe meer besef ek hoe afhanklik ek van God is, hoe meer leef ek uit God se krag, nie uit myne nie; hoe meer leer ek in die praktyk verstaan wat Paulus in 2 Kor 12:10 verklaar het: “As ek swak is, is ek sterk.”
Views: 7