Wat moet Ek met jou doen, Efraim? Wat moet ek met jou doen, Juda? Julle liefde is soos ’n môrewolkie: dit verdwyn so vinnig soos dou. (vers 4)
’n Mens hoor die pyn in God se hart as Hy oor sy volk praat. Hy is hartseer en moedeloos. Hy verwag liefde en toewyding, maar kry net offers en brandoffers (vers 5). Sy mense verbreek die verbond met Hom (vers 7).
En tog bly Hy hoop (5:15)! Hosea verstaan dit, en daarom, ondanks alles, verseker hy die volk dat, as hulle na die Here terugkeer, daar vir hulle ’n toekoms by God is, so seker as die son opkom (vers 3).
Miskien voel jy jy het jou kanse by God verbeur. Of miskien treur jy oor iemand naby aan jou wat die rug op God gedraai het, en wonder jy of daar nog hoop vir hom of haar is. Hosea wil ook vir jóú verseker dat God ’n God van tweede (of derde of sóveelste) kanse is. Soos die pa van die verlore seun, wag Hy met verlange op die terugkeer van elkeen wat weggedwaal het (Luk 15:20).
Hou dié prentjie wat Jesus vir ons in Luk 15 teken, helder in jou gedagtes wanneer jy oor dié saak bid.