My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom … (vers 2)
Ai, sou jy kon sê. Wie sal nou bly wees as dit sleg gaan, of as die land in die drein afspoel?
Maar dis nie wat Jakobus bedoel nie. Jy hoef nie bly te wees oor die beproewing self nie. Jy moet bly wees, omdat jy weet dat God die beproewing gaan gebruik om jou geestelik sterker te maak. Jy moet opgewonde wees omdat God besig is om jou te vorm en te toets (vers 3), en die beproewings daarvoor inspan.
Natuurlik is dit nie eenvoudig nie. Die Here verwag nie van ons om te sê: “Prys die Here, ek het ’n beproewing!” en dan sit jy agteroor en wag dat iets moet gebeur nie. Die sleutel lê in die manier waarop jy jou beproewings hanteer: met geduld, met blymoedigheid, met volharding, sê Jakobus.
’n Mens kan in jou beproewing moedeloos in ’n bondeltjie gaan sit en wens dit gaan verby. Of jy kan kwaad raak vir die Here wat so ’n ding oor jou gebring het. Of jy kan jou oë optel na God en jou vertroue op Hom stel vir wysheid om deur die krisis te kan kom (vers 5).
Views: 45